Search    

Richtersveld Transfrontier Park Tours

 

Die Richtersveld, n bar en verlate, maar skouspelagtige mooi gebied, is die enigste bergwoestynstreek in die land. Rotsbesaaide valleie en diep klowe wat deur takriviere van die Oranje/Garieprivier uitgekerf is, loop deur die ruwe berglandskap en ontsaglike vlaktes wat weswaarts tot by die diamantryke Atlantiese kus strek. Daar word ook na die Richtersveld verwys as ons Skepper se stoorplek, waar hy die surplus van ongelooflike klip en rotsformasies, na die skepping gestoor het.  Die Richtersveld is die tuiste van n magdom vetplante, en n wildernisparadys vir buitelugliefhebbers wat ontvlugting soek en net die natuur as geselskap wil hȇ.

 

Die plantegroei is een van die merkwaardigste kenmerke van die gebied: die Richtersveld word trouens as die tuiste van die rykste verskeidenheid van vetplante ter wȇreld beskou. Ondanks die skynbaar onherbergsame terrein het verskeie faktore saamgespan om ideale toestande vir verskeie mesems te skep toontjies(Lithops), vygies, plakkies, noorsdoring en die platterige botterboom. n Paar endemiese aalwyne kom ook hier voor. Die endemiese Halfmens (Pachypodium namaquanum), wat ook dikvoet of noordpool genoem word, kom hier voor. n Unieke kenmerk van die plant/boom is dat hul krone altyd noorwaarts kyk.

 

Die Richtersveld met sy lang en komplekse geologiese geskiedenis, lok reeds jare lank propekteerders darvan getuig die talle propekteerskagte en kopermyne in die gebied.

 

Die Richtersveld Nasionale Park is in 1991  geproklameer en afgebaken om n deel van hierdie fassinerende streek te bewaar.  Die park is uniek in die opsig dat dit die eerste kontaktuele park is wat nie by n bestaande nasionale park ingelyf is nie. Ingevolge die ooreenkoms met die bewoners van die noordelike Richtersveld, die Nama-volk, bly die grond in hulle besit en word hulle toegelaat om met veeboerdery in die park voort te gaan. Die Nama-volk is die afstammelinge van die Khoikhoi veeboere wat sowat 3000 jr gelede uit Noord-Botswana suidwaarts na die Oranjerivier getrek het. Namate hulle verder wes getrek het, het die toenemende droogte hulle gedwing om in twee te verdeel; een groep het hulle noord van die Oranjerivier gevestig en die ander groep suid daarvan n gebied wat as Klein Namakwaland bekend geword het (Namakwa is die meervoud van Nama). Hoewel die Nama-volk grotendeels in ander kultuurgroepe opgeneem is, het hulle taal met sy vier eksplosiewe klikklanke behoue gebly en is hul tradisionele koepelvormige matjieshuise nog by Steinkopf en Khubus te sien.

 

Daar is meer as 200 voëlspesies al in die park opgeteken en redelike verskeidenheid soogdier spesies, waaronder klipspringers, vaalribbokke, bobbejane, springbokke en hartman zebras. Meer as 60 reptielspesies en 25 slangspesies, waaronder 8 paddaspesies is al hier opgeteken.

 

Die klipwoestyn word dikwils in die winter na goeie winter-reëns omgetower in n sprokieslandskap oortrek met veldblomme.